Die ontwikkeling van ’n inasemingsmiddel uit wildegemmer (Siphonochilus aethiopicus) vir die behandeling van ’n Influensa A-virus

Griep is ’n ernstige, wêreldwye gesondheidsprobleem met een biljoen gevalle en tussen 290 000 en 650 000 sterftes jaarliks (World Health Organization 2019). As dit nie betyds behandel word nie, kan dit tot bakteriële longontsteking, sinusinfeksies en verergering van asma, diabetes en kardiovaskulêre siektes lei, wat uiteindelik die dood kan veroorsaak (Rothberg et al., 2008). Die voortdurende verandering van virusse en hul ontwikkeling van weerstand teen geneesmiddels bemoeilik die bekamping van die siekte wat die behoefte aan nuwe, natuurlike griepmedisyne beklemtoon.